Op 26 Oktober 1698 is Goewerneur Simon van der Stel deur ’n aantal boere in die Drakensteinse omgewing versoek om meer grond aan hulle beskikbaar te stel. Op 28 Februarie 1699 is die name van 15 boere in die boeke van die VOC aangeteken as die nuwe grondeienaars in die Wamakersvallei. Hierdie vyftien boere het bestaan uit die aansoekers van die omgewing van Draken-stein, asook ’n aantal Franse wat in 1698 in Suid-Afrika aangekom het.

Op kerklik-godsdienstige gebied is die Hugenote aanvanklik deur ds. Pierre Simond versorg. Hy het in 1688 saam met hulle na die nuwe vaderland gekom en hom op Stellenbosch gevestig. Hy moes egter elke tweede Sondag ’n diens in Drakenstein hou, wat inderdaad in 1691 ’n afsonderlike gemeente geword het. In 1694 het ds. Simond hom op ’n plaas gevestig wat aan hom toegeken is naby die latere Pniel. In 1718 is ’n kerkgebou op die terrein van die latere Strooidak-kerk opgerig, wat vir die Wamakerksvalleiers darem die gebou van aanbidding nader gebring het.

Na ds. Simond se vertrek na Europa in 1702 het die Franssprekende gemeenskap dit al hoe moeiliker gevind om hulle identiteit te handhaaf en die Franssprekende komponent van die bevolking is mettertyd deur die Hollanssprekende deel geassimileer.

Vir nagenoeg 150 jaar was die bewoners van die Wagenmakersvallei ten nouste betrokke by die Drakensteinse godsdienstige sentrum vir die vervulling van hulle godsdienstige en opvoedkundige behoeftes. Namate die bevolking gegroei en die vallei opgebou is, het ’n eie gemeenskapslewe en ’n eie identiteit egter begin ontwikkel. Daarbenewens was die natuurlike skeiding van die Bergrivier wat in die winter dikwels vol was, ’n verdere bydraende faktor. Die rivier kon slegs met ’n pont oorgesteek word, wat nie altyd in ’n toestand was om swaar vragte oor die rivier te vervoer nie.

Op 23 Januarie 1800 het ’n brief, onderteken deur F. du Toit, J. Minnaar, Abraham Bosman, J.H. Retief en J. Marais die Drakensteinse Gemeente versoek om ’n eie kerk in die Wamakersvallei te bekom. Volgens die brief was daar reeds 60 hoofde van huisgesinne in die vallei. Redes wat aangevoer is, was die verafgeleënheid van die inwoners, te veel mense wat op een slag oor die pont oor die Bergrivier moes kom om betyds vir die erediens te wees, en die feit dat almal nie oor die middele beskik het om die reis gereeld aan te pak nie. Van hierdie eerste poging tot afstigting het daar egter niks gekom nie.

Die volgende krisis het in 1837 voorgekom toe die pont oor die Bergrivier gebreek en die inwoners van Groenberg, Wagenmakersvallei en Daljosaphat vir maande lank verhinder is om eredienste in die Paarl by te woon. Op 25 November 1837 kom van die belangrikste ingesetenes van hierdie streke aan die huis van Francois du Toit bymekaar om die saak te bespreek. Hulle besluit dat ’n kerk in hierdie geweste noodsaaklik is en stel ’n kommissie saam om die saak van ’n eie gemeente te ondersoek: Groenberg - J.J. Malan en Jacobus Louw; Wagenmakersvallei - Dan J. Retief, Jacobus J. Malan, Jan D. Rossouw en John Addey; Dal Josaphat - Jan G. Hugo en David du Toit. Hulle besluit dat die grense van die beoogde nuwe gemeente die veldkornetskappe Groenberg, Wagenmakersvallei en Dal Josaphat (van die plaas van Gideon Hugo tot dié van die weduwee Sarel du Plessis) sal insluit.

Hierdie kommissie het Champagne, die plaas van Francois Marais, digby die samevloeiing van die Spruit- en Krommerivier, as ’n geskikte plek beskou om die kerkgebou op te rig. Die kommissie se redes vir dié keuse was dat alle wapaaie daar bymekaargekom het en dat daar genoeg klip, klei en water was. Die kommissie het ywerig voortge-gaan om die sake van die te stigte gemeente te beplan. Vanaf November 1837 tot Julie 1840 het hulle 117 keer vergader, waarvan 108 keer was nadat hulle amptelik deur die Goewerneur gemagtig is om as kommissie te funksioneer.

Die grond is uiteindelik vir 63 000 gulden gekoop, wat ongeveer R3 150 beloop het. Die westelike deel is vir die kerk en die pastoriegrond uitgehou en die res is in erwe opgedeel wat verkoop moes word om die koopsom te help delg.

Klaarblyklik was dr. John Addey die groot dryfkrag agter die hele beweging. Hy was ’n Engelssprekende geneesheer wat tot die N.G. Kerk toegetree het toe hy op 13 Maart 1831 aangeneem is.

Die kommissie het ’n stewige memorandum op 15 Desember 1837 opgestel en aan die Paarlse Kerkraad voorgelê. Die belangrikste redes vir die versoek tot afstigting was die ongeveer 500 lidmate, die feit dat almal nie rytuie kon bekostig nie, die vol Bergrivier veral in die winter, te min sitplekke in die kerkgebou en die feit dat die gemeente reeds te groot was vir goeie bearbeiding.

Hoewel die Kerkraad simpatiek gesind was teenoor die memorandum, het ds. Van der Lingen in ’n brief wat op 15 Januarie 1838 by die kommissie behandel is, die redes vir afstigting een vir een weerlê. Dit het die kommissie egter meer vasberade gemaak om voort te gaan, ’n meer amptelike kommissie op ’n openbare vergadering laat saamstel en ’n versoekskif aan die goewerneur gerig. Intekenlyste wat as waarborg kon dien vir die salarisse van die leraar, koster en onderwyser is gesirkuleer en aan die Paarlse Kerkraad voorgelê.

Ds. Van der Lingen het in sy brief van 23 Maart aangedui dat die kommissie se handelinge totaal teenstrydig was met die heersende kerklike gebruik en dat die intekenlyste as onontvanklik beskou is omdat die Kerkraad se toestemming nie daarvoor gevra is nie. Verder kon die kommissie se voorneme om met die bou van ’n kerkgebou voort te gaan alvorens die kerklike ampsdraers behoorlik voorsien is, ongodsdienstigheid in die hand werk. Die kommissie het breedvoerig op hierdie brief geantwoord en besluit dat hy nogtans sou voortgaan, ook met die beplanning van die bouwerk, al sou hy die steun van die Kerkraad moes ontbeer.

Die plan van die gebou is deur A. Grové opgestel en het eers net uit die latere skip bestaan, sonder toring en sonder konsistorie. Die dak was ook laer as die latere finale produk omdat die galery nog nie aangebring is nie.

Die gebrek aan duidelike onderhandelinge met die Paarlse Kerkraad oor die verlof tot afstigting, die grense van die te stigte gemeente en die status van die intekenlyste, het versoorsaak dat die saak nie by die ringsitting van 1939 kon dien nie. Eers nadat die kerklike en ordelike weg gevolg is, kon die versoek voor die ringsitting van 28 en 29 April 1940 dien. Die ringskommisie wat die saak verder sou hanteer kon die nodige stappe doen en op 19 Junie 1840 is Wellington tot ’n afsonderlike gemeente in die amptelike staatskoerant geproklameer: "Op aanbeveling van de Ringsverga-dering van de Kaapstad, heeft zijn Excellentie den Gouverneur goedgevonden te gelasten dat een deel van de Parochie van de Paarl, zal genoemd worden een afzonderlijke Parochie van de Nederduitsche Gereformeerd Gemeente, onder de naam van ‘Wellington’. ..." En dan word die grense noukeurig beskryf. Die Goewerneur het ook die Weleerwaarde Heer A.F. du Toit as leraar goed-gekeur.

Volgens die "Rekening Courant van het Committee tot oprichten eene Kerk te Wellington van Februarie 2 1838 to July 13 1840" is die bedrag van 29 882.3.4 riksdalers ingesamel en 25 063.6.3 rds. uitgegee.

Die Eerste Dertig Jaar (1840 - 1870)

Leraar en Kerkraad Bevestig

Die eerste leraar, ds. A.F. du Toit, en die eerste Kerkraad, is op Sondag 26 Julie 1840, bevestig. Ds. Van der Lingen is versoek om dié plegtige geleentheid te kom waarneem, maar het die uitnodiging "wegens onpaslijkheid" van die hand gewys. Ds. Herold van Stellenbosch is ook genooi, maar hy is vanweë huislike en kerklike verpligtinge verhinder om te kom. Uiteindelik het ds. Philip E. Faure van Wynberg ("woonende op de plaatz ‘Waterloo’") hom die taak laat welgeval.

Andries Francois du Toit is op 16 Junie 1811 in Daljosaphat gebore. Terwyl hy in Holland gestudeer het, het die kommissie in Augustus 1939 die Paarlse Kerkraad versoek om hom as leraar te beroep met die oog daarop om in die te stigte gemeente bevestig te word.

Die kerkgebou was vol ten spyte daarvan dat dit winterweer en die Bergrivier vol was. Die oggend omstreeks 09:30 is ds. Du Toit en die Kerkraad bevestig en die namiddag om 14:00 het hy sy intreepreek gelewer. Hierdie datum, 26 Julie 1840, kan dus as die stigtingsdatum van die N.G. Gemeente Wellington beskou word.

Die eerste kerkraadsvergadering is net die volgende dag in die kerkgebou gehou. In die voorsitterstoel was ds. P.E. Faure van Wynberg, en origens was teenwoordig die nuwe leraar ds Andries Francois du Toit, ouderlinge Jan Hendrik Rossouw, Bartholomeus Johanes le Roex, diakens Giliaume Francois Marais, Gideon Retief, Pieter Gideon Joubert en John Addey. Tot ampsdraers is verkies as scriba John Addey, as diakenkassier Gilliaume F. Marais en as administrateur van weduweefondspenninge Pieter Gideon Joubert.

Sitplekke en Begrafnisse

Die eerste taak wat die Kerkraad op homself sou neem, was om ’n "commissie van zitplaatsen" te benoem om die sitplekke in die kerkgebou uit te deel. Die kommissie vergader, onder voorsitter-skap van ouderling Jan Hendrik Rossouw, reeds op 27 Julie en stel die prys van die sitplekke vas. In daardie dae was dit algemene gebruik om die sitplekke in die kerkgeboue te verhuur - elke lidmaat was dan verseker van ’n vaste sitplek. Daar was toe slegs enkele banke in die kerkgebou en die lidmate het grotendeels op stoele gesit - stoele wat tydens die ingebruikneming van die kerkgebou met groot sorg deur elke familie vanuit die Paarlse kerkgebou na Wellington oorgebring is.

Die sitplekke is volgens ouderdomse-nioriteit (van die familiehoof) toegeken. Die voorste ry sitplekke is met ’n swaarder huurgeld belas en het goedkoper geword namate dit na agter geplaas is.

Die kommissie moes ses keer afsonderlik vergader tot met die volgende kerkraadsvergadering op 13 Oktober 1840 en later ’n reglement opstel om sy sake op orde te kry. Die stryd om sitplekke sou nog lank in die gemeente voortduur.

Begraafplaasreëlings is ook deur dieselfde kommissie getref. Soos gebruiklik in daardie dae is mense rondom die kerkgebou begrawe. Alle prosedures rondom ’n begrafnis was die verantwoordelikheid van die gemeente, maar die taak het vierkantig op die skouers van die koster gerus. Die geboutjie wat aan die noordwestekant van die kerkgebou staan, was gebruik as ’n waenhuis vir die lykswa.

Toe die begraafplaas rondom die kerkgebou met verloop van jare vol begin word het, is ’n nuwe begraafplaas langs die Paarlpad aangelê. Hierdie begraafplaas is, na baie onderhandelinge, in 1973 aan die Munisipaliteit oorgedra.

Die Pastorie

Op die tweede kerkraadsvergadering van 13 Oktober 1840 is besluit om ’n pastorie te bou volgens die plan van die heer Stephanus Malherbe. Volgens alle getuienis is die eerste pastorie in Kerkstraat 11 gebou, d.w.s. dieselfde erf waar die latere 1935-pastorie gebou is. Hierdie eerste pastorie is in 1842 voltooi, maar het nie vir lank aan die vereistes vir ’n doelmatige pastorie voldoen nie. Na ongeveer 10 jaar se gebruik is die gebou in 1851 afgebreek en ’n tweede pastorie opgerig. Hierdie gebou is in 1935 afgebreek en deur ’n derde pastorie vervang.

Konsistorie

Op 12 Julie 1842 besluit die Kerkraad dat ’n konsisorie aangebou moet word, en die koster, Stephanus Malherbe kry opdrag om dit te bou en voor die volgende winter te voltooi. Dié konsistorie was nie so groot soos die latere een nie.

Die Gemeente Groei

Tot 1843 het Wellington onder die Ring van Kaapstad geressorteer. Vanaf 1844 was dit onder die Ring van Tulbagh, vanaf 1858 weer onder Kaapstad en vanaf 1880 onder die Ring van die Paarl. In 1844 was die getal lidmate 1500, waarvan 575 belydende lidmate was. Sedert afstigiting was daar in die eerste vier jaar dus ’n toename van ongeveer 75 belydende lidmate. Teen 1858 het die getal lidmate sedert die stigting bykans verdubbel en in 1859 was die groei weer eens positief.

Gedurende die vroeë sestigerjare het talle gemeentes in ons land ’n ongekende geestelike herlewing beleef. Dit het veral ten nouste saamgehang met die stryd teen die liberalisme wat die selfgenoegsaamheid van die enkeling sentraal gestel het. Die landwye herlewing het waarskynlik by die konferensie begin wat in April 1860 in Worcester gehou is, waar ds. Andrew Murray, later van Wellington, as predikant bevestig is. Tydens die konferensie is daar versugtinge uitgespreek dat die Here predikante wat die suiwere leer sou bedien, moes voorsien. Dr. Robertson van Swellendam het oor herlewing gepraat, waarop ernstige bespreking en stille afwagting gevolg het.

Die herlewing wat hierop gevolg het, het vanaf Worcester uitgekring na talle gemeentes, waaronder ook Wellington. Oral het dit gelei tot groter erns in die verhouding tot die Here, groter hulpvaardigheid en beter gesindhede. Die pinksterbidure was ’n regstreekse uitvloeisel van hierdie herlewing deurdat ds. G.W.A. van der Lingen in 1861 met sulke bidure in die Paarl begin het, waarna ander gemeentes die voorbeeld gevolg het. In Wellington het die opwekking oral in die gemeente bidure tot gevolg gehad, die kerkbesoek het aanmerklik verbeter en groter erns is met die huisgodsdiens gemaak.

Vergroting van die Kerkgebou

’n Regstreekse uitvloeisel van die herlewing in die Gemeente was die vergroting van die kerkgebou in 1861 toe die twee syvleuels aangebou is. Die inwyding, wat deur ds. Du Toit en dr. Faure waargeneem is, het op 15 Oktober 1861 plaasgevind tydens ’n feestelike geleentheid wat deur ongeveer 2400 mense bygewoon is. Maar ten spyte van die nuwe vleuels was die ruimte in die gebou nog steeds te klein.

Die Wederdopers

Te midde van hierdie herlewing het ’n wederdoperse groep in Wellington ’n arbeidsveld kom soek. In 1860 het ’n voormalige Nederlandse sendeling, genaamd Groenewoud, hom op Wellington kom vestig. Sy kragte is in 1868 versterk deur die aankoms van ’n ene August Schoch. Hulle het juis vir Wellington as die sentrum van hulle werksaamhede uitgesoek omdat hulle deur ’n Goddelike openbaring kennis sou kry dat Wellington die nuwe Jerusalem sou wees. Van hier sou die hemelvaart van alle gelowiges tydens die eindoordeel in 1869 plaasvind. Intussen kon alle gelowiges maar ophou werk en al hulle aardse besittinkies geniet en deur-bring.

Dat ten minste 8 van sy lidmate na die nuwe leer oorgegaan het, moes vir ds. Du Toit ’n bron van hartseer gewees het. Maar dat een van hulle die voorleser van die Gemeente moes wees, was ’n dubbele slag. Hy was die heer Jan Hendrik Retief wat ook die skoolmeester van die seunskool was.

Retief het in 1854 die pos van voorleser by sy pa oorgeneem. In Januarie 1862 het hy die Kerkraad versoek dat sy salaris aan dié van die orrelis gelykgestel moet word, maar die Kerkraad het die versoek nie toegestaan nie. In Julie 1863 het hy voor die Kerkraad verskyn omdat hy nie die wettigheid van die kinderdoop wou erken nie en ook ander besware gehad het teen die Heidelbergse Kategismus. Dit is hierdie Retief wat op die heuwel teenoor Hexberg ten hemel sou vaar, aangehelp deur ’n brandstapel - met natuurlik pynlike nage-volge.

Retief is op 8 Julie 1863 eers vir ses maande, en op 13 Januarie 1864 finaal geskors aangesien hy nie van sy dwaling wou terugkeer nie. Die heer M.L. Smith is in sy plek as voorleser aangestel.

Op 6 Julie 1864 is die volgende lidmate wat tot Groenewoud se sekte oorgegaan het, geskors: Johannes Hendrik Retief, Johannes Michael Brink, Andries Francois Retief, Andrina Wilhelmina Retief, Martha Maria Retief, Hester Cecilia Malan en Susanna Louisa Bosman. Op dieselfde vergadering het die Kerkraad ’n brief van Retief behandel waarin versoek word "wegens ziekte en armoede om eene gift uit de Kerkekast". Die bedrag van £1-10/- per kwartaal is aan hom toegestaan.

Die Groenewoudsekte se enigste positiewe nalatenskap aan Wellington was in 1873 toe hulle die wyk geneem het en die gebou wat hulle aanvanklik betrek het, nl. White House, wat oorspronklik deur dr. John Addey gebou en as woonhuis gebruik is, aan ds. Andrew Murray verkoop het met die oog op die stigting van die Hugenote Seminarie.

Ds. Du Toit nie gesond nie

In die ringsverslag van 1851 word melding gemaak dat ds. Du Toit se gesondheid veel te wense oorlaat en dat hy sy werk slegs met die grootste inspanning kan voortsit. Hy was besonder nougeset in die uitvoering van sy pligte, maar sy gesonheid het geleidelik agteruitgegaan as gevolg van ’n ernstige keelkwaal - sodat hy teen September 1870 nie in staat was om te preek nie. Op Sondag, 26 Februarie 1871 is hy oorlede nadat hy sy hele bediening van 31 jaar aan die Gemeente van Wellington gewy het. Eerw. Isaac Bisseux van die Sendinggemeente het die begrafnisdiens die volgende Woensdag gelei, en ds. Du Toit is suid van die kerkgebou teen die ringmuur ter ruste gelê.

Ontwikkeling die dorp en gemeente

Verskeie gebeurtenisse het bygedra tot Wellington se groei gedurende die eerste dertig jaar sedert dorpstigting. In 1853 is die pad oos van die Bergrivier tussen Paarl en Wellington tot hoofpad geproklameer. Op 14 September 1853 is die Bainskloofpas ingewy. Op 4 November 1863 is die spoorlyn tussen Kaapstad en Wellington oopgestel en aangesien Wellington die spoorwegterminus was, het die dorp ’n belangrike ruilpunt in spoor- en padverkeer tussen die suide en die noorde geword. Die dorp het dus ’n belangrike kommunikasie- en vervoerkanaal geword. Nadat diamante in 1869 in die binneland ontdek is, het Wellington ’n belangrike uitruilpunt van goedere, idees en geselskap geword. Die dorp het in 1873 munisipale status verwerf.

Verskeie "buitelanders" sou ’n groot rol in Wellington se ontwikkeling speel. Daar was die Franse sendeling Isaac Bisseux, die Engelse geneesheer dr. John Addey, die padboumeester Andrew Geddes Bain, die Hollandse skoolmeesters M.J. en C.M. Stucki en C.P. Hoogenhout - om maar enkeles uit die beginjare te noem.

Andrew Murray van Wellington (1871-1905)

Ds. Andrew Murray

Andrew Murray is op 9 Mei 1828 as die tweede kind van ds. en mev. Andrew Murray (sr.) van Graaff-Reinet gebore. Laasgenoemde was een van die Skotse predikante wat gedurende die agtientwintigs na Suid-Afrika gekom het om die dringende tekort aan predikante aan te vul. Vanweë die gebrek aan behoorlike onderwysgeriewe in Suid-Afrika het ds. Murray (sr.) sy twee seuns John en Andrew Skotland toe gestuur waar hulle by ’n predikantbroer van hulle pa tuisgegaan het. Albei seuns het in 1845 die graad M.A. aan die Aberdeense Universiteit behaal, waarna hulle hulle teologiese opleiding (ook ter wille van die bemeestering van die Hollandse taal) aan die Akademie in Utrecht (Nederland) ontvang het.

Terug in Suid-Afrika word Andrew Murray in 1849 as predikant in Bloemfontein aangestel. Sy gemeente was besonder uitgestrek, selfs met besoeke aan die Trekkers tot in die Transvaal, sodat hy vir lang tye te perd of met die perdekar van die huis af was, blootgestel aan die ongenadige weer. Dit het sy gesondheid mettertyd ernstig geknou - die gevolge waarvan hy nooit heeltemal sou herstel nie.

In 1860 verhuis hy na Worcester. In dié tyd tree hy na vore as ’n skrywer van geestelike boeke. In 1862 word hy die eerste keer tot moderator van die Sinode verkies, en dit op 34-jarige leeftyd. In 1864 word hy na Kaapstad beroep en bevestig.

Die vakature wat ds. Du Toit se afsterwe in Wellington gelaat het, het ongeveer sewe maande geduur. Eers die derde beroep, nl. op ds. Andrew Murray van Kaapstad was suksesvol en hy is op 21 September 1871 op Wellington bevestig. Hier het hy die res van sy lewe deurgebring tot sy dood in 1917.

Ds. Murray het dadelik met huisbesoek begin terwyl die gemeente in ’n staat van afwagting was. Hy het met albei sy voete plat op die aarde gestaan en ’n goeie begrip vir menslike swakheid gehad. Hy kon mense met ’n vonkel in die oog en met ’n fyn sin vir humor hanteer. As prediker was hy wyd bekend vir die vuur en oortuigingskrag wat van hom uitgestraal het terwyl hy sy hele wese in sy preke gestort het.

Die Marthasaal

Reeds vroeg in Andrew Murray se bediening op Wellington het die Kerkraad ’n behoefte aan ’n saal vir gemeentelike gebruik gevoel. In 1864 het mej. Martha le Roux £200 uit haar boedel aan F.P. le Roux (waarskynlik haar broer) en L.P.J. Lochner bemaak om aangewend te word vir die herstel en versorging van sekere grafte in die Bovleikerkhof. Die kerkhof het volgens ’n familieoorlewering tot stand gekom deurdat Francois Pierre (Petrus) le Roux ’n gedeelte van sy plaas daarvoor afgestaan het. Deur haar erflating wou Martha le Roux waarskynlik haar bydrae maak om te sorg dat die familiegrafte in stand gehou word op die grond wat haar broer, F.P. le Roux beskikbaar gestel het. Martha le Roux is in 1864 oorlede. Op 22 April 1872, tydens ’n buitengewone kerkraadsvergadering, maak hierdie broer Lochner ’n voorstel wat daarop neerkom dat die Kerkraad die bemaking oorneem en die rente daarop aanwend vir die instandhouding van die grafte. Die restant van die rente kan aangewend word volgens die Kerkraad se oordeel. Die eksekuteurs van die boedel het die bedrag aan die Kerkraad oorgemaak en volgens oorlewering in die Le Roux-familie het die Kerkraad, die familie en die boere in die omgewing ooreengekom dat die Kerkraad die kapitaal vir die bou van ’n saal kon aanwend en die boere sou na die versorging van die grafte omsien.

Op 12 Augustus 1872 besluit die Kerkraad om die gebou aan die onderpunt van die pastoriegrond op te rig - hoewel die saal uiteindelik nie op kerkterrein opgerig is nie, maar op grond wat aanvanklik vir dorpserwe uitgesit is. Die eerste Marthagebou, met sy hoofingang in Kerkstraat, is opgerig op die terrein waar die latere kerksaal gebou is.

Uitbreidings aand die kerkgebou

Op 4 Februarie 1874 besluit die Kerkraad om ’n nuwe gallery in die kerk aan te bring omdat die bestaande sitplekke reeds weer te min geword het. In Julie is die tender vir twee galerye aanvaar.

Volgende aan die beurt was die kerktoring wat in die loop van 1892 en 1893 gebou is.

Aansienlike veranderings is in 1928 aan die kerkgebou aangebring - o.a. is die dak met ongeveer 2½ meter verhoog.

Die orrelis, D. de Villiers, was ’n geruime tyd reeds ontevrede met die orrel, maar eers op 11 September 1893 het die Kerkraad besluit om ’n nuwe orrel aan te koop. Hierdie orrel, wat, na veskeie aanpassings in die jaar 2000 steeds in gebruik was, is oorspronklik deur deur Peter Conacher van Huddersfield, Engeland gebou.

Omdat die ou kansel, wat oorspronlik deur die Paarlse Gemeente geskenk is, te klein was vir twee predikante gelyktydig, is dit van die hand gesit en die nuwe preekstoel op 25 Augustus 1895 in gebruik geneem.

Opvoedkundige Inrigtings

Ds. Murray was van die begin van sy bediening af in die opvoeding geïnteresseerd. In Bloemfontein het hy bv. ’n tyd lank waargeneem as die eerste rektor van Grey Kollege. In Kaapstad het hy het ’n belangrike rol gespeel in die totstandkoming van die Goeie Hoop-seminarie vir dogters en die Normaalskool vir die opleiding van onder-wysers. Op Wellington het hy hom veral die agterstand t.o.v. die opvoeding van dogters ter harte geneem. Vir hulle was daar feitlik geen toegang tot hoër onderwys nie, aangesien die onderwysersvoorsiening wat daar wel was, hoofsaaklik deur seuns benut is.

Gedurende 1872 hou hy hom besig met die vraag hoe daar in die dringende behoefte na werkkragte vir die Koninkryk voorsien kan word. Terwyl hy en sy gesin teen die einde van 1872 in Kalkbaai vakansie hou, bestudeer hy die werk wat deur Mary Lyon aan die Mount Holyoke Meisieskool in Massachusetts in die VSA gedoen word. Hy is veral diep getref deur die beginsels onderliggend aan die stelsel, naamlik dat die intellektuele aspek daarvan (die hoof) gekombineer word met ’n visie op die Koninkryk (die hart) en praktiese werk om die dogters ook handige huisvroue te maak (die hand). Hy skryf ’n brief aan die prinsipale van die Seminarie om ’n onderwyseres aan te vra wat dieselfde werk op Wellington kan kom doen.

Murray belê ’n gemeentevergadering op 25 Junie 1873 in die kerkgebou om die saak van ’n skool vir Christelike onderwys te bespreek. Die Gemeente reageer positief en keur die skema goed. Op die vergadering word reeds £500 vir die projek beloof, wat binne vier maande tot £1150 gegroei het. Dié vergadering het ook oor die naam besluit, nl. die Hugenote Seminarie, hoewel die Departe-ment van Onderwys die naam "Berg River District Boarding School" gebruik het.

Entoesiasme vir dié projek is ook ver buite die grense van Wellington uitgedra deur middel van De Kerkbode en deur die saak by die Sinode te stel. Soveel sinodegangers wou die ingebruikneming van die gebou (wat van Schoch gekoop is) op 25 Oktober 1873 bywoon, dat ’n spesiale trein vanaf Kaapstad vir dié geleentheid gereël is.

Mount Holyoke het intussen op Murray se brief gereageer deur in plaas van net een, twee onderwyseresse te stuur, nl. mejj. Abbie Ferguson en Anna Bliss, wat in November 1873 in Suid-Afrika aangekom het.

Op 19 Januarie 1974 het die werk van die Hugenote Seminarie in die White House begin. Die aankoop van die gebou is deur die Welling-tonse Gemeente gefinansier, nl. £1600. Die grondvloer is vir lesinglokale gebruik en die boonste verdieping as slaaplokale.

Beide Mejj. Ferguson en Bliss is op 5 Oktober 1874 as lidmate van die N.G. Gemeente opgeneem. Ander inrigtings wat uit die Seminarie gespruit het, is die Hugenote Kollege, die Hugenote Universiteits-kollege, die Onderwyskollege en die Hugenote Hoër Meisieskool.

Die Sendingsinstituut

Die behoefte om jongmanne uit die Kerk se eie geledere te werf wat die Suid-Afrikaanse situasie geken het en wat geskool kon word om op teologiese en etniese gebied die behoeftes in Suid-Afrika kon ontmoet, het mettertyd al hoe duideliker geword. Elke sinode van die N.G. Kerk vanaf 1824 het getuig dat iets aan die sendingsituasie gedoen moet word. Ds. Andrew Murray was die man wat die inisiatief geneem het en sodoende vir die Kerk ’n deurbraak bewerkstellig het. Na een jaar van diens in die Gemeente kon hy reeds by die Ring verslag doen dat die gemeente aan die sending meewerk deur op buiteposte diens te hou.

Met sy bekende geesdrif en planmatigheid het ds. Murray aan die werk gespring om die nodige werkkragte uit die geledere van die Kerk se eie jongmense te vind en op te lei. Hy het ds. George Ferguson, ’n broer van mej. Abbie Ferguson, vir die werk gewerf. Hy het in Oktober 1877 in Suid-Afrika aangekom en dadelik met die klasse begin.

Ander Sendingliggame

Die sendingywer wat op Wellington onder die inspirasie van Andrew Murray geheers het, het ook direk of indirek tot die stigting van die volgende liggame bygedra:

    * Die Predikantesendingvereniging is op 11 November 1886 op inisiatief van ds. Murray gestig.
    * Die Vrouesendingbond is in 1899 gestig met mev. Murray as voorsitster en mej. Spijker, ’n onderwyseres van die Seminarie, as tesouriere.
    * Die Africa Evangelical Fellowship voer ook hulle ontstaan terug tot by ds. Andrew Murray en het op 16 September 1989 hulle eeufees in die kerkgebou van die N.G. Gemeente gevier.
    * Die Sendingblad voer sy ontstaan terug tot De Zendingsbode wat sedert Januarie 1887 deur mejj. Ferguson en Spijker uitgegee is om sendinginligting te versprei.
    * Die Kindersendingkrans het ontstaan uit die Lettie-Sendingkrans wat in Maart 1890 deur mej. Spijker in die lewe geroep is.
    * Die N.G. Sendingkerk in S.A. is op 5 Oktober 1881 op Wellington in die geskiedkundige Sendingkerkgebou gestig.
    * De Mannen Zending Bond der N.G. Kerk in Zuid-Afrika het op 6 Augustus 1908 by geleentheid van ’n entoesiastiese sendingkongres op Wellington tot stand gekom.

Andrew Murray as Internasionale Godsdienstige Leier

In die internasionale godsdienstige gemeenskap van sy tyd was Ds. Murray ’n gesiene en gerespekteerde leier wat dikwels in ander lande en voor internasionale gehore moes optree. Hy het Europa vyf keer besoek, in die meeste gevalle met die oog op godsdienstige sake. Dit is te betwyfel of Suid-Afrika ooit nog ’n godsdiensige leier opgelewer het wat internasionaal soveel erkenning as hy geniet het. Verskeie van sy ongeveer 250 Engelse en Nederlandse werke is al in minstens 15 ander tale soos Frans, Duits, Spaans, moderne Grieks, Deens, Sweeds. Japannees, Russies, Sesoetoe, drie aparte Indiense tale en ook verskillende taalvorms van Chinees vertaal.

Volgens Choy, ’n buitelandse biograaf van Murray, was sy eretitel in die buiteland: Andrew Murray van Wellington.

Murray as Plaaslike Leier

In Suid-Afrika het Andrew Murray ten minste nege evangelisasietoere deur die land onderneem, oral gepreek en konferensies gehou. Hy was ses keer tot moderator van die N.G. Kerk verkies. Sy besondere slag met mense en sy fyn humorsin het baie daartoe bygedra dat hy landwyd in aanvraag was as leier.

’n Tweede leraar word beroep

Teen die begin van die agtien-negentigs het dit duidelik begin word dat die Gemeente ’n tweede leraar benodig. Ds. Murray se herhaalde afwesig-heid was waarskynlik een van die oorsake hiertoe, aangesien daar nie in daardie tyd ’n skerp toename in lidmatetal was nie. In Julie 1892 word ’n gemeentevergadering gehou wat vir die reëling te vinde was, maar die vraag het ontstaan oor waar ’n pastorie gekry moes word.

Tydens ’n kerkraadsvergadering op 29 Julie 1892 gee ds. Murray kennis dat hy die pastorie gaan ontruim, waarskynlik omdat hy Clairvaux bekom het - die huis waar hy die res van sy lewe gewoon het.

Op 22 Augustus 1892 het die Kerkraad ds. J.R. Albertyn van Riversdal as tweede leraar beroep en op 1 Desember is hy bevestig. Die twee leraars het mekaar goed aangevul, sodat, volgens H.J. Smith, die negentigerjare en die eerste klompie jare van die twintigste eeu as die bruidstyd van die Gemeente beskou kan word. Die verskeidenheid geestelike stimuli tydens ds. Murray se bediening en die stigting van die Seminarie en die Sendinginstituut het ’n groot mate van sprankelende ryp-heid in die Gemeente na vore gebring.

Weereens te min sitplekke

Dat dit veral die kinders en jongmense was wat daarvoor gesorg het dat die kerkgebou te klein geword het vir die eredienste, blyk uit die notule van die spesiale kerkraadsvergadering van 12 Augustus 1896: "... Met het toenemend getal Jongelieden, die hier ter schole komen, is de kerk te klein om de opkomst behoorlik te bevatten ..." Die lidmatetal was in daardie stadium 2615 siele waarvan 1273 lidmate was. Die Kerkraad het derhalwe besluit dat die gallerye vergroot moes word.

'n Tweede diens is op Sondagnamiddae gehou, maar dié is vanaf Februarie 1898 na Sondagaande verskuif - ’n reëling wat tot beter bywoning gelei het.

1898 was ook om ’n ander rede ’n besondere jaar: die jaar waarin die jubelfees ter herdenking van ds. Murray se 50 jaar van ampswerk in die Gemeente gehou is - ’n geleentheid wat ook deur soveel as 1200 kinders bygewoon is. In hierdie jaar het ds. Murray ’n eredoktorsgraad, D.D. (in teologie), van sy Alma Mater, die Universiteit van Aberdeen, ontvang.

Die verslag van die staat van godsdiens van die Gemeente vir die jaar 1898 wat aan die Ring voorgelê is, is ’n baie besondere dokument wat spreek van dankbaarheid en ootmoed - dit word feitlik volledig deur H.J. Smith in sy gepubliseerde geskiedenis van die gemeente op pp. 43-45 aangehaal.

Toevoegings tot Versorgings en Opvoedingsinrigtings

Gedurende die jare rondom die eeuwisseling het daar nog toevoegings van inrigtings vir kinders en jongmense gekom om Wellington se posisie as opvoedings- en versorgingsoord te herbevestig. Die eerste hiervan was die "Meisjes Arbeid School" of die Girls Industrial School wat o.a. op inisiatief van mev. Murray in 1898 gestig is. Die doel van dié inrigting was om aan die kinders van arm ouers wat nie self kon voorsien nie, opvoeding te verskaf. Die kinders sou vir drie jaar versorg word, twee uur per dag formele onderwys ontvang en leer om goeie huisvroue te wees. Daarna sou hulle in die sorg van hulle ouers teruggeplaas word of ’n eie verdienste moes vind. Sowat 50 kinders vanuit die hele Kolonie is hier versorg.

Dit was grotendeels die Gemeente wat die skool onderhou het. Elke wyk van die Gemeente was vir een maand verantwoordelik om die nodige lewensmiddele te verskaf. Vanaf 1923 het die inrigting ’n gewone kinderhuis geword en die naam "Murray Kinderhuis" is ook in dié jaar daaraan gegee. In 1937 het die Staat betrokke geraak, wat beteken het dat die inrigting op ’n subsidie aan-spraak kon maak. Die Gemeente het egter steeds aanspreeklik gebly in die onderhoud daarvan. In 1963 het die eiendom en beheer oorgegaan na die Sinodale Kommisssie vir die Diens van Barmhartigheid (SKDB) van die N.G. Kerk.

Behalwe die Industrial School was daar ook ’n inrigting met 80 weeskinders uit die Anglo-Boereoorlog. Die inrigting is deur ds. J.R. Albertyn naby die latere Navarre koshuis opgerig en het geen regeringstoelae ontvang nie - die Gemeente, met die hulp van ander gemeentes, het die onkostes gedra.

Die derde inrigting wat rondom die eeuwisseling ontstaan het, was Friedenheim. Hierdie inrigting het sy ontstaan gehad in ’n Bybelklas wat gedurende 1888 deur mej. Ferguson in die Hugenote Seminarie begin is. Vanweë die baie jong dames van die Seminarie wat hulle al meer vir sendingwerk begin aanbied het, het daar ’n natuurlike behoefte aan gespesialiseerde skoling met die oog op sendingwerk by die dames ontstaan. Hierdie kursus het onder die uitsluitlike bestuur van die Vrouesendingbond gestaan. In 1903, toe die sinode van die N.G. Kerk sy sendingwerk gekonsolideer het, het die VSB en daarmee die vroeëre Bybelklas amptelike erkenning van kerkweë ontvang. In 1904 kon die inrigting ook sy eie gebou, Friedenheim, betrek.