WELLINGTON DIGI-DIENS | Geanker in die storms (lees) | 2 Timoteus 1:6-14
Teksgedeelte: 2 Timoteus 1:6-14 | Prediker: Ds Lourens Bester | Preek – 17 Mei 2020 (Ds. Lourens Bester)
Tema: Geanker in die storms
2 Timoteus 1: 6-14
Preekinleiding
Broers en susters, Goeie more! Ek dink nie een van ons het al woorde om te beskryf wat op die oomblik met elkeen van ons gebeur nie. Wat met ons dorp en wêreld aan die gebeur is.
In my voorbereiding die week dink ek sommer aan ‘n spanbou-kamp wat ons huis-komitee in Hermanus gehad het. Deel van die spanbou was dat ons baie vasbyt aktiwiteite in die see gedoen het. Onder andere swem ons toe die eendag Onrus se seestroom. ‘n Vriend van my wat diep uit die Karoo kom, daag toe op met ‘n baie swaar duikpak. Aanvanklik het ons met groot glimlagte die stroom aangedurf en lekker gelê en toegelaat dat die stroom ons na die diepsee toe neem. Oppad diepsee toe, is daar toe eers ‘n paar klein golwe en toe paar groteres en toe kom die grotes – keer op keer. Sodra die een reuse golf jou platslaan na die bodem en jy veg om bo uit te kom, kom die volgende reuse brander. Die meeste van ons kon anderkant uitkom, maar ek sien toe my vriend met die swaar duikpak sukkel om bo te bly en asem te haal. Deur die genade het ons almal na ‘n rukkie se gestoei veilig uitgekom.
Baie van ons het dalk die grendeltyd so begin. Lekker stroom-af; ‘n kort ruskans by die huis. Toe kom die kleiner golwe, dat ons hoor die inperking hou langer aan. En toe bly die groot golwe kom:
Ons vryheid word ingeperk. Aanvanklik was dit ‘n klein golfie met tuinprojekkies om die huis, bak en brou en baie pret. Nou raak die golwe groter wat dis reeds 45 dae sedert ons van ons nabye familie kon sien of na ons gunsteling plekkie by die see ry.
Ons werke word verander. Aanvanklik was dit maklik om van die huis af te werk en oor Zoom vergaderings te hou, maar nou mis ons die mense by die werk, die saam dink en saam koffie drink.
Skool kry ‘n hele nuwe dinamika. Aanvanklik was dit lekker om kort video’s van die onderwysers te kry, maar nou raak die golwe al groter vir ouers wat tuisonderrig onderwysers moet wees en terselfdetyd voltyds werk.
Ons finansies trek swaar. Aanvanklik was die finansiële golfie klein en die koskaste vol, maar nou raak die golwe al groter met salarisse wat verminder, pensioenfondse wat krimp en die feit dat ons nie weet hoe lank die groot golwe gaan bly kom nie?
As volgelinge van die lewende Jesus Christus het ons gelukkig ‘n anker wat help dat die strome ons nie wegspoel nie, dat die golwe ons nie op die rots slaan nie. ‘n Anker wat ons help dat ons elke dag se uitdagings kan trotseer. Ons gaan vanoggend saam lees uit 2 Timoteus 1 waar Paulus vir Timoteus ‘n brief van aanmoediging skryf. ‘n Brief waarin hy vir Timoteus sê hy weet die golwe is hoog en groot, maar byt vas! Bly geanker!
Storms in die vroeë kerk
Ons golwe vandag is dalk groot, maar daar was reuse golwe in die vroeë kerk. (die brief was geskryf so rondom 50 n.C.) Paulus, die kerk planter skryf sy laaste brief voordat hy tereggestel word vanuit Rome aan Timoteus wat in Efese die kerk lei. Vandag is dit minder as 2 ure met ‘n vliegtuig, maar in daardie tyd moes die brief wat Paulus geskryf het maande geneem het om met die skip by Timoteus aan te kom.
Die Christelike kerk is in die tyd nog klein, min kerkies, min lidmate, baie vervolging en weerstand en baie dwaalleer. Die kerk is maar ‘n paar dekades oud en op die rand om ineen te stort. Die volgelinge van Jesus word gewantrou deur gemeenskappe en om getrou te wees aan Jesus word deur die keiser gesien as hoogverraad. Paulus wat in die tronk sit is ‘n getuienis hiervan. Timoteus wat die brief ontvang, het ‘n baie persoonlike band met Paulus gehad. Paulus was vir hom ‘n rolmodel en mentor. Timoteus die jong leier van die gemeente in Efese, is egter op ‘n moeilike plek. Hy is die leier van ‘n redelike groot gemeente in Efese, sy mentor en rolmodel is in die tronk en die vroeë kerk sukkel met vervolging en dwaalleer.
Ons is so gewoond aan die Christelike geloof se groot invloed in vandag se wêreld, veral in Suid-Afrika. Ons vergeet maklik van waar ons geloof kom. Hier rondom 50 n.C. was die vervolging so erg dat die kerk op die rand van uitwissing was. Die storms en golwe was sterk! Terwyl Paulus, Timoteus en die vroeë kerk die reuse golwe trotseer, herinner hy vir Timoteus wat die ankers is wat hom deur die storm gaan kry. Ankers wat net soveel vir ons vandag beteken.
Hier is drie ankers uit Paulus se brief wat ek dink net soveel vir ons kan beteken vandag:
Geanker in God se wil (nie ons sin nie)
Vanaf vers 6 tot 14, die stukkie wat ons vandag lees, gebruik Paulus 14 keer die drie-Enige God se naam om vir ons te herinner in wie ons anker gegrond is. Ons lewens is geanker in die drie-Enige God. Wanneer ons in die storms is, skop ons oorlewingsinstink in en gebeur dit egter so maklik dat ons die ‘eie ek’ en ons eie voorspoed in die middel plaas.
Die sielkundige Jean Twenge skryf in 2013 ‘n artikel in die ‘Times’ tydskrif met die titel “Millennials Me, Me, Me”. Sy herinner ons dat dit ongelukkig te dikwels gebeur dat ons wel onsself en ons voorspoed in die middelpunt plaas. Ons jonges sukkel erger daarmee as die ouer generasies. Twenge en van haar kollegas het ’n narsissisme-skaal uitgewerk om universiteitstudente te toets. In straat-taal sou my oupa gesê het die slimmes het ‘n skaal ontwikkel om te meet hoe self-gesentreerd elke persoon is. Die studie het begin in 1982 en aangehou tot 2009. Die interessante van die studie was dat in 2009 het 58% van die studente hoër op die skaal getoets as in 1982.
Die studie is ‘n herinnering dat die Westerse kultuur waarin ons leef, ons leer dat die wêreld om onsself draai. Ons lewensgeluk staan in die middelpunt. Hierdie self-gesentreerdheid werk ongelukkig nie wanneer die storms van die lewe ons tref nie. Paulus leer ons om aan God vas te hou en onsself in terme van God se genade en God se werk deur ons, te verstaan.
Hy herinner ons in vers 8 en 9 dat ons die ontberings of uitdagings moet dra vir die evangelie met die krag wat God vir ons gee – Hy is ons anker. Ons kan met kalmte die storms van die lewe betree, omdat ons krag nie van onsself kom nie, maar van God.
Geanker in die gawes wat God ons elkeen gegee het
In verse 6 tot 7 skryf Paulus:
“Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas.”
Paulus herinner vir Timoteus dat sy gawes van God af kom – net soos elkeen van ons se gawes ook van God kom. Timoteus moet die feit dat God hom geroep het, en dat hy die genadegawe om sy bediening uit te voer van God ontvang het, in gedagte moet hou. Hy moet ingroei in hierdie werklikheid. Hy moet hierdie wete soos ’n vuur aanblaas, sodat dit sy identiteit, sy wese en sy bewussyn vul.
God werk en die mens werk. God gee en die mens blaas aan. God en mens sluit mekaar nie uit nie. Timoteus word opgeroep om dit wat God gedoen het, toe te eien en daaruit te leef.
Realiteit is dat die gawes wat die Here aan elkeen van ons gegee het, ons gaan moet aanpas en nuut gebruik in hoe ook al die wêreld gaan lyk. Dit is stormagtige tye, maar die Here gee aan elkeen van ons gawes. Gawes wat ons soos Timoteus “soos ‘n vuur weer moet aanblaas.” In tye van storms moet ons God se gawes, wat die groot gawe van die Gees insluit, opnuut toe-ëien en daaruit leef. Ons moet moed skep en kragtig opstaan vir die Here. Ons kan dit doen, want ons het die krag en die Gees wat in ons werk van God ontvang.
Geanker in ‘n vangnet van verhoudinge
Paulus was ‘n rolmodel en mentor vir Timoteus. Die Here het hulle vir mekaar gegee en saam kon hulle sin maak van die storms wat hulle moes verduur. Hulle kon saam geanker in God die storm aanpak. Net so gee die Here ook vir ons ‘n vangnet van verhoudige waarmee ons die storms saam kan aanpak. Nie een van ons is ‘n eiland nie. Die Here gee vir jou ‘n gesin, vriende, familie, mentors en kollegas.
In Hebreeus is daar ‘n woord ‘Simhah’ – wat beteken ‘die geluk wat ons deel of die geluk wat ons maak deur te deel.’ Die gawes wat die Here aan elkeen van ons gee, moet ons deel met die mense rondom ons. In die storms gaan die gawes wat die Here aan elkeen van ons gegee het om te deel met die wêreld ‘die bron wees van die geluk wat ons maak deur te deel.’
Ons gawes wat die Here ons gee moet ons stuur om te gesels by die wat alleen is, om te troos by hulle wat seer het en te deel met die wat swaarkry. Die geluk wat ons deel, lê in hoe ons elkeen van ons se gawes uitdeel in die stormagtige tye.
Jy is nie alleen nie. Die Here het mense rondom elkeen van ons geplaas. Ons kan ons gawes met hulle deel en sò saam die golwe van die storms aanpak terwyl ons soos Paulus en Timoteus saam geanker is in God.
Samevatting
In vers 8 lees ons die volgende:
“Daarom moet ons ons nie vir die evangelie skaam nie. Inteendeel, ons dra ons deel van die ontberings met die krag wat God gee.”
Ons dra die ontberings, die uitdagings met die krag wat God aan ons gee. Die God in wie ons geanker is. Die God in wie ons gawes geanker is. Die God wat ons in ‘n vangnet van verhoudinge plaas.
Dalk voel jy vandag soos my vriend met sy swaar duikpak in Onrus se seestroom; dalk gaan jy in die dae of maande wat kom so voel. Weet dat die God wat ons anker, jou nie gaan los nie. Deur geanker te wees in God kan ons die storms aanvat.
Amen.
DANKOFFERS
Oorweeg asseblief om jou dankoffer elektronies te gee via elektronies bankoorplasing (EFT) of via ZAPPER.
Bankbesonderhede:
ABSA | Tak: 334-510 | Rek no. 430 580 000
ZAPPER: